Die dood van 'n Moderne Sokrates - Hoe die moord van Charlie Kirk alles verander
Die moord van Charlie Kirk verlede week was 'n skerp eskalasie van wat alreeds op universiteitskampusse die afgelope dekades gebeur. Ek bring hulde aan Charlie en kyk na die onderwerp.

Dis Woensdag aand 10 uur en ek is besig om Youtube te kyk. Ek is eintlik verveeld want niks hou my aandag nie maar ek besluit om vir 'n laaste keer die blad te verfris. Ek skrik. Warren Smith is besig om te stream. Die onderwerp? Charlie Kirk Shot.
Vir die volgende uur en 'n half is ek vasgegom aan my iPad. Hoe kon hierdie gebeur? Waarom? Ek verfris heeltyd elke nuusblad wat ek ken. Op X sypel inligting stadig maar seker deur en mens kan begin om 'n prentjie te skets. Die een oomblik sien jy hoe die skare weg probeer storm na die afgevuur is. Na vyf minute sien jy hoe die skoot tref en weer 10 minute later word daar 'n ou man in hegtenis geneem. Ek voel hoe die adrenaline en skok begin oorvat. Binne 40 minute van wat die voorval gebeur het, het ek toegang (ongelukkig) tot die ongesensorde video hoe die skoot Charlie tref. Mens sien net hoe 'n dik stroom bloed uit sy nek begin stroom. Dit ontstel my tot in my binneste. Ek besluit later dat hierdie nie goed vir my is nie en besluit om te gaan slaap.
Ongelukkig is ek die oggend daarna steeds ontsteld oor alles en ek haat dit. Ek verpes myself dat ek voel soos ek doen, want ek was nog een van daai mense gewees wat hartseer was as 'n celeb dood gaan nie. Dit was nog altyd vir my "cringe" wanner celebs dood, en veral roksterre, hoe mense op hul statusse sit hoe baie hierdie persoon gaan mis, hierdie mense wat hulle nog nooit geken het nie. En nou? Nou is ek een van daai mense.
Charlie Kirk se dood sal vir lank nog 'n skok wees. Die feit is dat ons 'n briljante man aan die politieke stryd verloor het, een wat sy waardes elke dag uitgeleef het. Wat ek baie inspirerend vind was hoe Charlie sy Christenskap betrek het met enige onderwerp wat hy bespreek het. Sy geloof was die fondasie van sy denke, wat skaars in vandag se tye is, veral op die wyse waarmee hy dit gedoen het. Selfs in sy debat by Oxford Union, 'n plek waar jy in die kas sal bly oor Christenskap om uit die vrees dat jy geag sal word as "onnosel", het hy sonder skaamte Bybelse verse aangehaal om sy punte te staaf. Waar op die aarde het jy al ooit so iets gesien? Charlie Kirk het dit gedoen sonder vrees dat hy bespot sal word. Behalwe vir sy Christenskap was hy ook 'n groot verdediger van konserwatiewe idees en hy het 'n groot rol gespeel in die 2020 Amerikaanse verkiesing veral met betrekking tot jong stemmers.
Behalwe dat 'n goeie man onnodig tragies gesterf het moet ons in die Weste veral treur want as jy dit wil of erken of nie, 'n hedendaagse Sokrates is koudbloedig vermoor vir die eenvoudige rede dat hy bereid was om mense uit te daag oor die oortuigings wat hull het. Ongeag waar jy jouself bevind op die politiese spektrum, ons almal hoort te treur oor die dag wat 'n figuur soos Charlie Kirk vermoor word, want dit is hierdie tipe mens wat demokratiese ideale lewendig hou. Debat is 'n gesonde demokratiese beginsel wat gebruik moet word sodat in die samelewing idees kan uitredeneer en 'n tipe van balans kan bereik word oor ons huidige posisie in geskiedenis. Veral in die hedendaagse waar ons elkeen so gepolariseerd is, is dit meer as ooit nodig.
Sonder twyfel is een van die grootste probleme in vandag se tye dat ons in ons egobabbels bly omdat dit ons ¨veilig" laat voel. Egobabbels hervestig aan ons dit wat ons nog die heeltyd geweet het, dat "ek reg is" terwyl die wêreld daar buite "verkeerd" is. Hierdie is natuurlik nie die geval nie en die feit dat ons nie meer so baie bereid is om idees te wil teëkom wat ons dalk kan uitdaag oor die oortuiging wat ons hou is kommerwekkend. Dit maak ons swak want ons bult nie ons intellektuele spiere nie en dit lei tot die stagnering van idees en nog meer, die stagnering van ons samelewing. Ons almal, beide links en regs, is skuldig hieraan. Dit is ook hierdie babbels wat ek voel die rede is dat ons almal ekstremiste raak van ons ideologieë en of minstens die grootste invloed het tot die proses. Definitief kan ons begin sien hoe die moordenaar ook deel was van toksiese babbels. Charlie Kirk was die teenoorgestelde en was een van die werklike min mense wat nog geprobeer het om te help om demokratiese debat lewendig te hou.
Sy dood is ook 'n skerp eskalasie van wat reeds aan die gang is op progressiewe universiteitskampusse in Amerika al vir die afgelope dekade. Vir so lank as wat ek konserwatiewe denkers begin volg het, onthou ek hoe daar altyd groot klem gelê is op die sekuriteit wat hulle moet reël om hul toesprake te lewer. Dit was vir my toe al absurd hoe figure soos Ben Shapiro en Steven Crowder, wat in my opinie louwarmwater-konserwatiewe denkleiers is, 'n klein polisiemag basies moes aanstel vir hierdie geleenthede. Ek kan onthou hoe Shapiro in onderhoude verduidelik het dat die sekuriteitsmaatskappy 'n lokmiddel in die vorm van 'n kar na die hoofingang moes stuur met die idee dat betogers dit sal volg. Die kar het die indruk skep dat Shapiro binnekort sou uitklim terwyl hy eintlik intussen die geleentheid gebruik om by die agterdeur in te gaan. Dis malligheid, veral as mens dink dat universiteite veronderstel is, of minstens voorgee dat hulle die huisves van oop en eerlike gesprekke is.
Nietemin is my punt dat Charlie se moord 'n lelike uitgroeisel is van dit wat eintlik al jare lank gebeur en in alle eerlikheid weet ek nie of daar vinnig 'n terugkeerpunt gaan wees nie. Ek weet nie vir hoe lank konserwatiewe denkers hierdie nog sal duld nie. Die werklikheid is dat hierdie denkers hierdie tipe van byeenkomste as 'n geheel sal verwerp en kan ons hulle blameer? Hoekom jou lewe in gevaar stel vir 'n spul snotneuskinders wat in elk geval jou kop op 'n skinkbord soek? Ek sal nie verras wees as hierdie walglike spul progressiewes juig vir die feit dat daar nie meer toesprake is deur mense wat alternatiewe sienings bied nie, maar dit versterk net die egobabbel in die einde en hoe lyk so 'n toekoms? Gaan ons almal net ideologiese zombies wees wat nooit die gedagte gehad het dat ons miskien verkeerd kon gewees het nie? Dit kan net vir so lank aangaan.
Ten slotte, Charlie Kirk se dood moes nooit eers 'n moontlikheid gewees het nie, veral nie op die wyse wat dit plaasgevind het nie. Daardie enkele skoot het in 'n kwessie van sekondes vir ons in die Weste 'n nare werklikheid onthul. Dit het die donkerste gedeeltes van mensdom ontbloot deur die hoeveelheid progressiewes aanlyn wat sonder skaamte 'n onskuldige man se dood vier, selfs tot vandag toe. Dit het duidelik gemaak dat ons met barbare in ons midde sit wat so ver vervreemd is van werklikheid dat hulle statiese teks op 'n skerm kop toe vat en dit die werklikheid probeer maak. Enige hoop dat ons omring is met eweknieë wat ook die beste vir ons wil hê het in daardie sekondes in duie gestort.
Ek vrees vir wat kan kom want die werklikheid is dat ons met progressiewes sit wat bloeddorstig is. Ons moet dit werklikwaar as 'n wonderwerk beskou dat hulle nog nie 'n guillotine in elke stad van Amerika neergesit het om die wat "verkeerd dink" te onthoof soos tydens die Groot Terreur in Frankryk nie. Dalk is geskiedenis besig om homself te herhaal in 'n vreemde wyse. Dalk is die moderne progressief 'n moderne Jakobyn. Hierdie mense wil jou onthoof vir die blote feit dat jy die woke kultus se beginsels bevraagteken. Moenie die man in vroueklere 'n man noem nie, jou oë lieg vir jou. Ons het D.E.I. programme nodig want mense van kleur kan nie andersins in hoë poste kom nie, merietokrasie het nog nooit bestaan nie. Die hoof uitvoerende beampte van 'n medieseversekeringsmaatskappy moet dood geskiet word. Hoekom? Want die bedrag in sy bank rekening is te groot en dus gee hy nie om oor jou en my nie.
Dis nie om te sê dat ons as konserwatiewes niks het om oor bang te wees nie. Ons moet vrees vir die feit dat ons broeders oorkant die politiese spektrum in die toestand is waarin hulle hulself bevind want dit affekteer ons. Ons moet kan reageer op hulle idees, teenstellings bied vir hul (vergaande) stellings, maar hoe doen ons dit as hulle nie eers op die selfde plein as ons is nie? Hoe reageer ons as hulle ons begin uitmoor? Daar is tans sonder twyfel 'n groot kans vir politiese oproer en die laaste ding wat ons nou nodig het is dat ons in die Weste met mekaar begin baklei want dit is presies wat die vyande van vryheid soek.
Ek dink nie daar gaan vinnig 'n oplossing kom tot die bitter omstandighede waarin ons onsself bevind nie, ons kan net hoop om in die einde soos Charlie te wees, bereid om te luister en oop te wees om te leer van ander mense met geduld en om standvastig te wees in ons geloof. Rus in Vrede.

